Making, Maturing, and Mobilising committed followers of Jesus.

SKRIFLESING: Matt. 25:1-13 TEKSVERS: Vers 13 TEMA: NOU IS BETYDS, NETNOU IS TE LAAT! Geliefdes in ons Here Jesus Christus, Matt. 24 – 25 handel oor die Profetiese Rede. Jesus gee hier aan ons `n blik in die toekoms en sê hoe ons in die lig daarvan moet optree. Hierdie gelykenisse het te doen met waaksaamheid en waaksaamheid beteken nie om niks te doen nie, maar juis om besig te wees met die werk wat Christus ons gee om te doen. Ons moet gedurig, volhardend en aanhoudend aan die werk bly. Ons verwag die bruidegom en daarom moet ons voorberei wees vir sy koms! Soos `n bruid wat uitsien na haar troudag, maande voor die tyd beplan, selfs die fynste en kleinste detail uitwerk en geen koste,geld, tyd en moeite ontsien nie, so moet ons voorbereiding wees as bruid en kerk van ons Here Jesus Christus! Dit is die kerk se opdrag om bekering tot Christus ons Saligmaker te verkondig! En as die getal uitverkorenes volledig is en dit weet ons ook uit Gods se Woord en belydenis in die NGB art. 37 dan sal Christus weer kom met groot heerlikheid en majesteit om sy bruid in alle heerlikheid by Hom te neem vir die feesmaal, die huweliksmaal saam met Hom die bruidegom. In ons Skrifgedeelte word die laaste dae voor Christus se kruisiging beskryf. Die tyd was nou naby dat die Seun van die Mens vir ons sondes as soenoffer geslag word! Reeds is Jesus en sy dissipels in Jerusalem en soos Christus se gewoonte was gaan Hy en sy dissipels na die tempel op die Sabbat. Met redelike sekerheid kan ons dus aflei dat hierdie gebeure presies `n week voor Jesus se kruisiging afgespeel het! Dit was Paastyd en die Paaslam is voorberei! Een dissipel wys Hom op die skoonheid van die tempel met die trots van `n ware Israeliet. En dan volg Jesus se Profetiese rede. Die tempel sal verwoes word, omdat die volk Israel Christus verwerp het! Die verwoesting van Jerusalem sal volg en soos Jerusalem verwoes sal word so seker sal die wêreld ook vergaan. Die skoonheid van die wêreld waarop die mense so trots was sal vergaan en die mense sal in rou verkeer. In Openb. 18 kan ons lees van hierdie gebeure met die val van Babilon, die val van die sedelose wêreld wat so baie mense liefhet en so baie mense aanhang! Dit is die val van die aardse koninkryke wat die mens vir homself opgerig het. Die die val van sekularisme en die val van ontug van die mens in hierdie wêreld! Die val van nasies, konings, handelaars en politieke organisasies wat so versot is op die wêreld se skatte. Want Babilon, die wêreld het nie alleen swaar gesondig nie, maar ook baie ander daartoe verlei. Geliefdes dink, maar aan Hollywood en sy sedelose verhoudings. En as die Koninkryk van God in sy volheid kom met Christus se wederkoms sal die oordeel plaasvind en sommige sal die heerlikheid van die ewige lewe ingaan, maar ander nie! Dit is hierdie dinge wat Jesus nou aan ons verkondig met hierdie gelykenis! En daar word spesifiek met ons sy Kerk gespreek! Die Kerk wat die lamp van die evangelie dra en die lig van die evangelie aan alle nasie, volke in tale moet verkondig. Jesus vergelyk sy wederkoms met die koms van `n bruidegom na die huis van sy Bruid. Volgens Joodse gewoonte het die bruidegom gewoonlik laat in die aand gekom, omring deur sy vriende. Hy het gewoonlik gery op `n perd en was geklee soos `n vors. In hierdie verband kan ons ook lees in Openb. 19 van Jesus se wederkoms waar Hy op `n wit perd sit, bekleed met wit en fyn linne en gevolg is deur die leërs van die hemel! Die bruid word uitgebeeld deur tien maagde wat lampe by hulle het. Die lampe het gewoonlik soos `n ketel gelyk met die pit in die tuit en is gedra op `n lang stok! Tog was daar `n verskil in die tien maagde! Vyf van hulle dink net aan die fees, maar vergeet dat hulle vernaamste taak is om die bruidegom te eer! Hulle neem hulle lampe, maar neem geen olie saam met hulle nie. Die ander dink wel aan die bruidegom se eer en neem kanne met olie saam met hulle om die bruidegom te ontvang! Die olie wat hier bedoel word is die olie van geloofsekerheid, liefde vir God en ons naaste, die begeerte na Woordverkondiging, die gebruik van die sakramente, gebede en die voed van ons dorstige siele uit die Woord van God. Maar dan talm die bruidegom! `n Lang tyd verloop en almal word vaak en raak aan die slaap. Hoe ken die Here sy kerk nie? Hierdie is vir ons `n vermaning! Die Kerk, dit is ons, is aan die slaap en het sy roeping vergeet! So besig is ons met interne sake dat ons die belangrikste vergeet, Jesus Christus self, en aan die slaap raak. Ander dinge hou ons besig! So besig is ons met ons eie dinge, dat ons waaksaamheid verslap! Jesus profeteer hier dat die Kerk nie altyd in gespanne verwagting op sy wederkoms sal uitsien nie! Selfs die dissipels `n week later daar in Gètsemane, het hierdie vermaning nie onthou nie. In die laaste ure voor Jesus se kruisiging moes hulle waak oor Jesus waar Hy in sy gebedsworsteling met sy Vader verkeer, maar hulle menslike swakheid het hulle verhinder en hulle het aan die slaap geraak. Tog bewaar die Here sy Kerk self en deur sy Gees voorsien Hy die olie! Hy voorsien die olie van geloof, Hy versterk deur die sakramente, Hy troos deur die Woordverkondiging! Maar daar is nog steeds dwase binne die Kerk, wat hierdie dinge geringskat. Dwase maagde wat op heel ander dinge gefokus is. Dwase wat op die wêreld gefokus is en hulle daaglikse bestaan. Dwase wat dink en redeneer oor God se Woord en bestaan en of die bruidegom werklik kom. Dwase wat hulle nie rein en heilig hou vir die bruidegom nie. Dwase wat in ontug voortlewe, God se Woord deur leer en lewe in ongehoorsaamheid verwerp en alle slim redenasies as verskonings voorthou. Ja, broeders, susters en kinders, ondersoek u maar na die hart, die Woord se taak is juis om onsself weer te ondersoek en te roep tot bekering! En dan kom die bruidegom! Die blye aankondiging is daar! Die Here ruk die Kerk self uit sy slaap wakker op die bestemde tyd! Vroeër was daar baie geleenthede! Nou is weer so `n geleentheid waar hierdie aankondiging ook gedoen word! Die tien maagde skrik wakker en haastig bring hulle alles in gereedheid! Maar die dwase maagde se olie is klaar en die bruidegom is hier! Dit is te laat! Nou is betyds, maar netnou kan te laat wees! Die lig van die geloof en die vlam van die liefde brand nie meer in hulle harte nie. Die olie is klaar! Nooit het hulle Jesus werklik verwag nie. Hulle was maar mee-lopers, het maar net saam met die ander gegaan, maar was nie werklik voorbereid nie, want die aardse dinge het hulle te besig gehou. Hulle vra nou of die ander sal help, maar die wyses kan nie, want dan gaan daar te min olie wees en dit gaan nou om die eer van die Bruidegom alleen! Hy is hier! Hy moet nou die eer ontvang! Vroeër was daar oproepe tot bekering, dat die bruidegom sou kom, maar toe het hulle nie geluister nie. Nee, sê die wyses gaan eerder, na die Verkopers, terug na die wêreld, miskien het hulle vir julle olie. So baie van ons dink nog steeds dat die wêreld die olie van sekerheid en vrede sal verskaf. Ons weet mos dit kan nie! Maar tog het die dwases hier op die einde, nog steeds die wêreld opgesoek! God verwag van ons `n opregte gehoorsaamheid tot Hom en bekering. Dit is `n andersheid wat geopenbaar word in die wil, om die Here van harte te dien. Dit moenie moeite wees om God te dien nie. Die Kerk se olie moet nie klaar wees nie! Die olie is die handelsware wat nie met geld verkry kan word nie en wat die Here in sy goedheid vir ons verniet aanbied. Die olie van getrouheid, ware geloof en opregte gesindheid! Geliefdes, ons gesindheid sal bepaal of ons eendag by die feesmaal van die Lam kan aansit. Waar is die vreugde en lus dan? As jy werklik dankbaar is omdat God jou in sy genade na sy bruilofsfees laat kom, dan is dit ook `n lus en `n vreugde om God te dien. Alles is gereed, alles staan klaar. Christus het volkome versoening tussen ons en God gebring. Die Woord spreek tot ons: Wees gehoorsaam aan God se Woord en Gees wat ons nog nader aan Hom wil bring in volkome getrouheid, volkomenheid, regverdigheid en heiligheid en ons bid daarmee: Laat U koninkryk kom! Here ons bid vir U wederkoms en wil voor u verskyn as u bruid in alle reinheid, want deur u Gees lei u ons tot berou van ons sonde en daaglikse bekering. En ons kan weet, waar ware berou is, is vergewing, waar bekering is, is vernuwing en dat ons rein soos `n bruid voor U kan verskyn en aan die bruilofstafel kan sit! In Op. 3:19 sê ons Here Jesus Christus: “Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by Hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en Hy saam met my. Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met my op die troon laat sit, net soos Ek die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” Hoor U sy stem? :” Kom sit aan by my feesmaal, kom na my genade !” Moenie uitstel nie, want môre kan te laat wees. Netnou kan te laat wees! Die wyses het feesgevier saam met die Bruidegom. Vir die dwases, diè wat Hom misken het was sy Woorde: “Voorwaar Ek sê vir julle, Ek ken julle nie, Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens sal kom nie.” Amen.